Plasie-prater dring deur na nasionale ronde van ATKV-redenaars

Michelle Stevens, ‘n graad 11 leerling van Hoërskool Merensky is die Afrikaans Addisionele Taal wenner tydens die tweede streekronde (semi-finaal) in die ATKV redenaarskompetisie. Met hierdie prestasie kwalifiseer sy om aan die nasionale ronde, wat Augustus hierdie jaar in die Wes-Kaap plaasvind, deel te neem.

Wat die prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat Michelle reeds in haar graad 9 jaar ook die eindronde gehaal het, en toe die derde plek landwyd losgepraat het.

Vroeg in Maart vanjaar het die strawwe praatkompetisie reeds begin met skoolrondes. Die eerste drie in elke kategorie het deurgedring na die eerste streekronde. In hiérdie ronde het alle skole van die Limpopo Noord streek deelgeneem by Heuwelkruin in Polokwane. Die beste sprekers het deurgedring na die tweede streekronde waarin alle Limpopo skole deelgeneem het. Hier het Michelle as wenner uit die stryd getree.

Merensky is eweneens trots op Ruurd Jacobs, graad 11, wie by die laaste streekronde onder die eerste vyf kandidate geeïndig het in die senior Afrikaans Huistaal kategorie.