20ste Krieketweek vir Merensky

Mnr Magnus Steyn (MHS skoolhoof) en Gerhardus Fourie

Hoërskool Merensky het op 27 Junie tot 1 Julie ‘n baie geslaagde, twintigste skolekrieketweek aangebied. O.15- en eerstespanne van PHS, Middelburg, Westfalia, Waterkloof, Heidelberg Volkies, Garsfontein, Randburg, EG Jansen, Lichtenburg, Zwartkop en Pretoria-Noord het Plasieland besoek tydens hierdie mylpaalweek.

Nadat die spanne vir ‘n week in 50-beurt formaat kragte teen mekaar gemeet het, is die toer afgesluit met vinnige-pas, energieke T20-wedstryde.

Na drie dae se harde spel, is die spelers, afrigters, skeidsregters en borge vermaak deur Pieter Smith by Safari Pub & Grill in Tzaneen.

Op Donderdagaand, 30 Junie, tydens ‘n formele prysuitdeling, is Timothy Elphinstone van Hoërskool Merensky aangewys as die beste senior kolwer van die week, asook die algeheel beste speler van die week.
Merensky lewer ook die beste junior bouler van die week, Gerhardus Fourie.

Die beste junior span van die week was Randburg en die beste senior span van die week, EG Jansen.

Junior en senior Merenskyweekspanne is tydens die prysuitdeling aangewys. Die seniorspan gaan van 6 tot 13 Desember aan ‘n internasionale T20-toernooi in Mauritius deelneem. Merensky-spelers wat in hierdie spanne opgeneem is is Gerhardus Fourie en Mubin Patel (juniorspan) en Timothy Elphinstone, Nyiko Shikwambana en AJ Fourie (seniorspan).

Hoërskool Merensky bedank graag die volgende borge vir hul getroue ondersteuning: Westfalia, Bidvest Foods, HK-Houers, Coke Tzaneen, Bosveld Biltong Box, Vision Sport, Levubu Neute, Forms Media en African Jacana.