81 Rekords spat by atletiek interhuis

Huis Ventus het die dirigente- en geesbeker gewen.

FOTO:
Huis Ventus het die dirigente- en geesbeker gewen.


Hoërskool Merensky se eerste atletiekbyeenkoms vir die jaar, die interhuis, was hierdie jaar ‘n skouspel.

Plasieland het hierdie jaar ‘n “huis”indelingsisteem bekendgestel, waar elke leerder en onderwyser deel is van een van die 4 huise: Ignis (oranje), Terra (groen), Aqua (blou) of Ventus (geel). Elke aktiwiteit – wat sport, kultuur, akademie en sosiaal insluit – sal vanjaar onder hierdie kam geskeer word. Indien jy as Plasie aktief betrokke is by die skool, sal dit tot voordeel van jou huis wees – net so kan jy jou huis se puntestand negatief beïnvloed as jy nie by die skoolreëls hou nie.

Hierdie inisiatief het reeds op Maandag, 22 Januarie, bewys dat dit ‘n positiewe effek op die skool se gees het, toe ‘n indrukwekkende massa Plasies hulle kant gebring het op die atletiekveld en pawiljoen. Huis Ventus het só die dirigente- en geesbeker ingepalm.

Op die baan en veld het elke Plasie sy beste gegee. 81 Rekords is gedurende die middag en aand gebreek, wat toon dat Merensky se atletiek nou nuwe hoogtes bereik. Huis Ignis was aan die einde van die dag die wenspan met 749 punte. Huis Aqua was tweede met 608 punte. Huis Ventus en Huis Terra het elke 548 en 381 punte ingepalm.

Plasieland sien uit na die Janus Robberts atletiekbyeenkoms wat op Vrydag, 2 Februarie, by Pietersburg Hoërskool aangebied word.