Adrenalien pomp op Plasiepark

MHS Uitnodigingsbyeenkoms 2019

‘n Baie suksesvolle atletiek uitnodigingsbyeenkoms is op Saterdag, 2 Februarie, by Plasiepark deur Hoërskool Merensky aangebied.

Atlete van hoërskole Pietersburg, Tom Naudé, Frans du Toit, Louis Trichardt en Merensky het mekaar die stryd aangesê op veld en baan.

Ster-atleet, Elandri Janse van Rensburg (o.14), het weereens die spies laat sing met ‘n nuwe rekord. Hierdie rekord is reeds in 1996 opgestel en is verbeter van 30.88m na 34.87m. Vir die tweede naweek in ‘n ry is sy aangewys as Junior Victrix Ludorum vir die 2390 punte wat sy deur die dag ingesamel het met spiesgooi, diskus, gewigstoot en 200m.

Die Merensky-span het 26 goue-, 46 silwer- en 51 bronsmedaljes vir die dag bymekaar gemaak.

Hierdie was ‘n gawe toetslopie vir die Soutpansberg Interhoër wat op 22 Februarie op Plasiepark aangebied word met hoërskole Eric Louw, Frans du Toit, Merensky, Northern Academy, Louis Trichardt, PHS en Tom Naudé.