Agri-Merensky maak stem dik by ALFA Expo

Agri-Merensky span by ALFA 2018

FOTO:
DIE AGRI-MERENSKY SKOUSPAN
Voor: Dominique Blandin de Chalain, Dylan Hallatt, Luandi Visagie, Nicky Smith, Ruben Erasmus en Mia Sounce.
Agter: Me. Nadia Last, Stefan Corbett, Megan Kirstein, Megan Strydom, Arne Verster en mnr. Arno Last.


‘n Uitgesoekte groep van Agri-Merensky het vanaf 18 tot 20 September die jaarlikse ALFA Expo (of African Lifestock Trade Fair) by die Afridome in Parys bygewoon.

Die vyf fokusareas gedurende die week was interras, slagos, jeug, veilings, sosiaal en landbou-ontwikkeling. Die jeugfokus, vanaf skoolvlak tot op tersiêre vlak, se mikpunt was die intergrasie met die onderskeie landboubedrywe in Suid-Afrika.

Hoërskool Merensky het skoonskip gemaak tussen die 11 landbouskole wat die expo bygewoon het, en 9 van die 12 pryse opgeraap.

Die volgende eersteplekke is aan Agri-Merensky toegeken:

  • Senior vleisbees skoumanskap, Nicky Smith (graad 11).
  • Junior boerbok skoumanskap, Dylan Hallatt (graad 8).
  • Senior boerbok skoumanskap, Luandi Visagie (graad 9).
  • Beste bemarkingsvoorlegging van die skool, Stefan Corbett (graad 11).
  • Junior interras kampioenskap wen beste senior koei, Nicky Smit met Debra.
  • Beste senior bul, Dominique Blandin de Chalain (graad 10) met Itai.
  • Beste junior koei, Mia Sounce (graad 8) met Klein Mary.

‘n Uitstaande prestasie is die feit dat die Plasie-kuilvoerspan, in samewerking met mnr. Joubert Fourie van Limpopo Melkery in Louis Trichardt, as algehele wenner van sorghum in Suid-Afrika, asook wenner van die skole-afdeling gekroon is.

Hierdie prestasies toon dat Hoërskool Merensky se Agri-Merensky kampus in elke opsig van krag tot krag gaan en vir niemand terugstaan nie.

Die Agrispan is gereed om op Sondag, 30 September, te vertrek na die Nasionale Jeugskou wat tot 3 Oktober by die skougronde in George, Wes-Kaap plaasvind.