Agri-Merensky verwelkom SALOV 2019

AFGEVAARDIGDES VAN MERENSKY Me. Magriet van der Merwe, mnre. Mark Louwies, Christo Pretorius, Schalk Corbett, Magnus Steyn & Paul Gubitz.

FOTO:
AFGEVAARDIGDES VAN MERENSKY
Me. Magriet van der Merwe, mnre. Mark Louwies, Christo Pretorius, Schalk Corbett, Magnus Steyn & Paul Gubitz.


Die Suid-Afrikaanse Landbou Onderwysers Vereniging se jaarlikse kongres het vanjaar meer as 150 afgevaardigdes na Hoërskool Merensky laat stroom.

Van 30 Januarie tot 2 Februarie was Agri-Merensky gasheer vir ‘n wye verskeidenheid landbou-aktiwiteite.

Besoekende landboukundiges is in hartlike Plasiestyl verwelkom en geregistreer, waarna die program in ‘n asemwegslaan skoolsaal afgeskop het. Hoofseun, Stefan Corbett, het beïndruk en harte geroer met sy besielende openingsboodskap, wat jonk en oud uitnooi om deel te word van ‘n blink landboutoekoms in Suid-Afrika.

Mnre. Warren Conradie van I3A Opleiding, Ivor Price en Kobus Louwrens van Food For Mzanzi en dr. Antonie Geyer van UOVS het referate gelewer, waarna die verskillende vakgroepe ingelig is rondom die nuutste tendense in die landbouvakke wat by skole aangebied word.

‘n Heerlike middagete, geborg deur Allesbeste Padstal, het die innerlike versterk. Die middag is ingelei met ‘n aanbieding deur mnr. Mark Hassenkamp van Future Food, waarna praktiese aanbiedings bygewoon is rondom die enting van Macadamias, ‘n Felco-gereedskap demonstrasie en ‘n avokadoboordbesoek.

‘n Genotvolle en leersame dag is afgesluit by die gewilde Safari Pub & Grill net buite Tzaneen.

Op dag twee het drie stampvol busse vertrek om afgevaardigdes na verskeie rolspelers in die plaaslike landbousektor te neem vir eerstehandse blootstelling aan die bedryf. ZZ2 se mark, avokadoboord en Romanita tamatielande, veeafdeling, Grootboom en natuurboerdery sentrum, asook Rietpol Pakhuis is besoek.

‘n Uiters geslaagde SALOV 2019 is afgesluit met ‘n dinee by Letaba River Lodge, waar mnre. Phile van Zyl van ZZ2 en mnr. Albert Loubser van Plaasmedia as gassprekers opgetree het. Almal is dit eens dat die Agri-span by Hoërskool Merensky ‘n klop op die skouer verdien.