Beleid en Prosedures

Merensky Alumni Klub

1. NAAM EN ORGANISASIE

Hierdie organisasie word Merensky Alumni genoem. Die organisasie is onderworpe aan die reëls en regulasies van Hoërskool Merensky. Die organisasie se leuse is: “Help dink, koester en bewaar...”.

2. MISSIE EN VISIE

Die Merensky Alumni is op die been gebring om die oud-leerlinge en -onderwysers van die skool te organiseer; belangstelling in die skool en sy aktiwiteite te bevorder en ‘n gevoel van lojaliteit en trots te kweek; die ideale en doelwitte van Hoërskool Merensky te bevorder en om te werk na die algehele verbetering van die skool.

3. FINANSIëLE BELEID

Merenski Alumni ontvang en allokeer alle gelde ingesamel deur ledegeld, ander programme en funksies na die finansiële komitee van Hoërskool Merensky. Alle Alumni fondse word bestuur deur die finansiële komitee van Hoërskool Merensky onder die “Alumni Fondse” rekening.

Alumni fondse sal as volg aangewend word:

  • Die opbou van Alumni strukture (kommunikasie en netwerke)
  • Spesiale projekte waaraan die Alumni gekoppel sal word
  • Bemarking van die skool

4. LIDMAATSKAP

4.1. Algemene Lidmaatskap

Alle persone wat aan die Hoërskool Merensky gematrikuleer het, of by Hoërskool Merensky in diens was vir ‘n tydperk van ‘n jaar of langer, is lede van Merensky Alumni. Persone wat nie by Hoërskool Merensky gematrikuleer het nie, maar een jaar of langer ‘n ingeskrewe leerling van die skool was kan vir lidmaatskap aansoek doen.

4.2. Ere Lidmaatskap

Persone wat nie lede is nie, maar oor ‘n tydperk verskeie belange in Hoërskool Merensky getoon het, kan as Erelede verkies word deur die Alumni-raad. Erelede sal nie geregtig wees om op enige vergadering van die Merensky Alumni te stem nie en sal ook nie kan dien op die Alumni-raad nie, maar sal alle regte en voorregte van die organisasie kan geniet.

4.3. Die Merensky Alumni Klub

Algemene lede word Aktiewe Lede deur aan te sluit by die Merensky Alumni Klub.

4.3.1. Struktuur van die Merensky Alumni Klub

  • Die Merensky Alumni Klub kan ‘n onbeperkte aantal lede hê.
  • Die Klub struktuur, belange en bemarking word bestuur deur die Alumni-raad.
  • Die Klub finansies word bestuur deur die finansiële komitee van Hoërskool Merensky, in samewerking met die Alumni-raad.

4.3.2. Beleid van die Merensky Alumni Klub

  • Algemene lede word aktiewe Merensky Alumni Klublede wanneer ‘n amptelike Merensky Alumni Klubvorm voltooi en goedgekeur is deur die Alumni-raad.
  • Ledegeld van ten minste R80 per maand vir professionele persone en R40 per maand vir studente moet per aftrekorder betaal word. Bo en behalwe die maandelikse ledegeld sal erkenning gegee word vir spesiale donasies (oor die algemeen of vir spesiale projekte/funksies).
  • Indien ledegeld vir ‘n tydperk van twee maande onbetaald is, sal die lid in kennis gestel word waarna hy/sy terugkeer na Algemene Lidmaatskap status.

4.3.3. Voordele vir Merensky Alumni Klublede

  1. ‘n Gratis, unieke identifikasiekaart met die lid se foto en besonderhede.
  2. Gratis toegang tot enige sportgeleentheid by die skool met toon van ID-kaart.
  3. Toegang tot die Alumni Klub-area by sport- en ander geleenthede.
  4. Voorkeur uitnodigings en kaartjies vir skoolfunksies.
  5. Dertig persent afslag op kaartjies vir funksies by die skool.
  6. ‘n Kwartaallikse e-nuusbrief met eerstehandse inligting oor skoolaktiwiteite en –gebeure.
  7. ‘n Lys van Alumni lede.
  8. Direkte bestellings vir die jaarblad en plasing van advertensies.

4.4. Kennisgewing van nie-diskriminasie

Geen persoon sal lidmaatskap geweier word op grond van ras, geslag, godsdiens, ouderdom, kleur, nasionale oorsprong, gestremdheid of seksuele oriëntasie/voorkeur nie.

5. DIE ALUMNI-RAAD

5.1. Struktuur van die Alumni-raad

Die Alumni-raad bestaan uit die Skoolhoof, Adjunkhoof Bemarking, Beheerliggaam Bemarking en Bemarkingskomitee van Hoërskool Merensky. Die Skoolhoof en Bemarkingsbestuurder dien as voorsitter en ondervoorsitter van die komitee. ‘n Sekretaresse en Tesouriere sal deur die Raad aangestel word. Die Skoolhoof, Bemarkingsbestuurder, Beheerliggaam Bemarking en Sekretaresse dien as dagbestuur van die Raad.
Enige Raadslid wat nie aan die vereistes van die Raad voldoen nie, insluitend gereëlde bywoning van vergaderings, kan van die Raad verwyder word deur ‘n twee-derde stem van die oorblywende lede van die Raad.
Indien enige lid van die Alumni-raad bedank, verwyder word of sterf sal die Voorsitter ‘n opvolger aanbeveel om op die Raad te dien, onderhewig aan ‘n mosie van goedkeuring deur die meerderheid van die Raad.
Ekstra lede kan op meriete deur die Alumni-raad gekoöpteer word.

5.2. Doel van die Alumni-raad

Lede van die Alumni-raad is verantwoordelik vir die volgende:

  • Die bevordering van lojaliteit en entoesiasme vir Hoërskool Merensky.
  • Die bevordering van kommunikasie, netwerke en gemeenskap onder die Merensky Alumni.
  • Die werwing van nuwe lede.
  • Die insameling van fondse deur middel van ledegeld en ander funksies en aktiwiteite.
  • Die verspreiding van inligting rakende Alumni-aktiwiteite aan die personeel van Hoërskool Merensky, skoolgemeenskap en Alumni-lede.

6. VERGADERINGS

6.1. Alumni-raad vergaderings

Die Alumni-raad sal ten minste 4 keer per jaar vergader op kennisgewing van die Dagbestuur. ‘n Meerderheid van die stemgeregtigde lede sal dien as kworum vir die geldigheid van die vergadering.

6.2. Algemene Jaarvergadering

‘n Algemene Jaarvergadering vir lede van die Alumni Klub sal in die middel van elke jaar gehou word. Tydens hierdie vergadering sal ‘n finansiële verslag van die vorige finansiële jaar aan die lede beskikbaar gestel word.

6.3. Spesiale vergaderings

Spesiale vergaderings vir die Alumni-dagbestuur of volledige Alumni-raad kan deur die Voorsitter belê word.

Algemene Registrasievorm 

OF

Sluit aan by die MERENSKY ALUMNI KLUB