Blou vlag wapper by nasionale Tritech

SENIOR WENPROJEK: Lisa Maguire en Liza-Ri Snyman.

FOTO:
SENIOR WENPROJEK
Lisa Maguire en Liza-Ri Snyman.


Die finale ronde van die nasionale Tritech-kompetisie vir jong wetenskaplikes het op 15 en 16 September by Hoërskool Merensky plaasgevind.

Tritech vier vanjaar sy negende bestaan. Hierdie kompetisie wil leerders bemagtig om ingeligte studente te wees wat goed toegerus is vir tersiêre opleiding en ook Wetenskaplike navorsing kan doen. Deelnemers word ook begelei om moderne tegnologie in navorsing te inkorporeer sodat hul verantwoordelik kan omgaan met Wetenskap en Tegnologie. Daarom moet elke leerder bewus wees van die impak wat sy/haar projek op die omgewing het en hoe dit die mens se lewe kan verbeter. Hierdie projekte word voorgehou aan beoordelaars en geïnteresseerde partye.

Na verskeie skool- en streeksuitdunne deur die jaar is slegs die beste navorsingsprojekte genooi om nasionaal te kompeteer. 116 Projekte uit Limpopo en Mpumalanga is op Vrydagmiddag, 15 September, beoordeel deur kundiges uit die industrie en privaatpraktyke. Die aand moes deelnemers in groepverband, met die minimum apparaat en innoverende denke, ‘n watersisteem vir hul huis aanlê. Daarna is die groepe se algemene kennis spelenderwys getoets.

Saterdagoggend het gesorg vir vet pret toe deelnemers wetenskaplike probleme moes oplos terwyl hulle heerlik op 15 bonskastele gegly, geklim en geklouter het.

Tydens Saterdagmiddag se prysuitdeling het Hoërskool Merensky Einstein se tone behoorlik laat krul met 12 goue-, 11 silwer- en 2 bronsmedaljes. Boonop spog Merensky met die beste projekte in die senior- en junior afdelings.

Die seniors, Lisa Maguire en Liza-Ri Snyman (graad 10), het die beoordelaars beïndruk met hul natuurlike sjampoe wat “natuurlik” beter is om te gebruik. Jamie Robertson en Suandrie Corbett (graad 9) se projek, “Gefiltreerde gryswater, die antwoord op insekte en voedseltekort” is aangewys as die beste junior projek.

Drie eersteplekke word aan Plasie-seniors toegeken in kategorieë Agricultural Sciences (Anri McLean), Health Sciences (Jade Barnatt) en Engineering & Design (Jan-Carel van Niekerk en Luann Botha).

Anya Glazer en Kesia Pohl verwerf tweedeplekke in die senior Environmental & Social Sciences en Agricultural Sciences kategorieë.

Derdeplekke is ingeneem deur Aldrich Hugo (junior Health Sciences), Anize Basson en Lin-Mari Theron (senior Environmental & Social Studies), Juan-Jacques Moller en Gerhard Rautenbach (senior Agricultural Sciences) en Michaela Stanley (junior Engineering & Design).