Boeta is gevind

Frikkie Deysel (Xander Steyn) word deur Welma (Joëlle Bols) gevra vir ‘n lys verdagtes. Shaggy (Christof Joubert) met sy hond, Scooby (Shaakir Ismail) en Fred (Retief Fourie) kyk toe.

Die nuwe graad 8-Skiewies op Plasieland het presies vier dae gehad om ‘n uithaler konsert die lig te laat sien.

Die soektog na Boeta, enigste erfgenaam van die beste sitrusboer in die land, wat “verdwyn”, het met vele kinkels op die verhoog afgespeel. Tydens die twee vertonings op Donderdag, 19 Januarie was niemand in die gehoor teleurgestel nie. Toneel en groepdans het gesorg vir groot vermaak. Die skerp teks, interessante dekor en skiewie-toewyding het die aansteeklike Plasie-gees bewys. Selfs die skoolhoof, mnr. Magnus Steyn, en sy Harley het deurgeloop.

Nadat elkeen sy hart uitgespeel het, het die groot oomblik aangebreek waar die beesklok tradisioneel gelui is as teken van volwaardige Plasie-status in murg en been.

Hoërskool Merensky bedank die dinamiese Uitvoerende Komitee van 2016/2017 vir ‘n uitstekende produk.