Boompret vir Skiewies

‘n Massa skiewies ontvang instruksies voor die boomplantaksie.

FOTO:
‘n Massa skiewies ontvang instruksies voor die boomplantaksie.


Martin Luther het gesê: Selfs al weet ek dat die wêreld more vergaan, sal ek steeds my appelboom plant. Hoërskool Merensky beaam die siening. ‘Blou’ boomplanters maak die afgelope jare ‘n beduidende verskil aan Plasieland en moeder aarde.

Die afgelope vier jaar plant die Merensky-skiewies boomlanings op die skoolterrein, wat hulle dan moet versorg tot aan die einde van hul matriekjaar. Hopelik sal hulle eendag saam met hulle kinders in die skadu kan piekniek hou.

Só het die skiewiegroep van 2018 die graaf by die boom gevoeg en op Woensdag, 28 Februarie, aangetree vir hul beurt om ‘n verskil aan Plasieland te maak en ‘n hupstoot aan die osoonlaag te gee.

‘n Rekordgetal graad 8’s (242) het, gewapen met ‘n verskeidenheid grawe, vurke, emmers en ondernemingsgees, onder die wakende oog van die prefekte die 54 jong Outeniekwageelhoutbome, Afrocarpus falcatus (voorheen bekend as Podocarpus falcatus), geplant.

Hierdie inheemse laning sal die ingang van die hek tot by die skool versier en ‘n koelte gooi oor die netbalbane.