Canéll korrel fyn

Canéll Jackson

Oor die naweke van 26 Januarie en 2 Februarie het Canell Jackson, een van Hoërskool Merensky se topskuts, nie op haar louere gerus nie.

Tydens die Provinsiale Binnenshuise Kampioenskap in Montana Park, skiet Canell ‘n nasionale kwalifiserende telling van 292 uit 300, met nie minder nie as 30 kolskote. Vir hierdie prestasie behaal sy ‘n gouemedalje in die JFBU-kategorie.

In Thabazimbi het sy aan die Suid-Afrikaanse Nasionale 3D Kampioenskap deelgeneem. Alhoewel die hitte en lang ure op die baan sy tol geëis het, het Canell haar staal gewys deur ‘n persoonlike beste, asook ‘n provinsiale kwalifiserende telling te skiet. Weer word sy beloon met goud.

Merensky-Boogskiet skop die naweek van 9 Februarie af met die eerste 3Di Triple Crown Been 1 by Magnum Archery in Gauteng.