Christelle het nie einde nie

Christelle Coetzer

Christelle Coetzer, bekande ster-atleet van Plasieland, is opgeneem in die Gauteng Noord Duathlon span wat op 5 Julie in Bloemfontein gaan kompeteer. ‘n Duathlon behels 2.5 km hardloop, 10 km fietsry en weer 1.75 km hardloop.

Sy het ook op Saterdag 6 Junie aan die interprovinsiale X-Country Landloopbyeenkoms, wat op Hoërskool Merensky se terrein aangebied is, deelgeneem.

Langasem-atlete van vyf provinsies het sake uitgespook, en Christelle het daarin geslaag om in die 4 km wedren vir dogters o.14 ‘n tweede plek te verower.

Op Sondag, 7 Junie het Christelle saam met Armand Cronjé (o.14), Bernice Cronjé (o.16), Robert Retief (o.16) en Sheldon Muller (o.16) van Hoërskool Merensky aan die XCO MTB te Hangklip in Louis Trichardt deelgeneem. Hierdie uitdaging behels drie rondes van 4 km elk op ‘n bergfiets. Christelle en Armand het albei eerste plekke behaal. Bernice het ‘n tweede plek ingepalm en Sheldon ‘n vyfde. Ongelukkig moes Robert na ‘n slegte val die stryd gewonne gee.