Dis ‘n Plasie-ding, jy sal nie verstaan nie…

Die #Seunskoshuis- en #Dogterskoshuis-spanne met ondersteuners. Voor: WD Last, Clinton Gerber en Egbert Robertson. Middel: Elzette Steyn, Nadia Last, Magnus Steyn jnr, Matia van der Westhuizen, Erendia Gerber, Yolandi Potgieter en Carien Robertson. Agter: Irma de Lange, Arno Last en Jan Potgieter.

FOTO:
Die #Seunskoshuis- en #Dogterskoshuis-spanne met ondersteuners.
Voor: WD Last, Clinton Gerber en Egbert Robertson.
Middel: Elzette Steyn, Nadia Last, Magnus Steyn jnr, Matia van der Westhuizen, Erendia Gerber, Yolandi Potgieter en Carien Robertson.
Agter: Irma de Lange, Arno Last en Jan Potgieter.


“Een vir almal en almal vir een” was die wekroep van die 13 leerder- en onderwyserspanne van Hoërskool Merensky by die eerste Predator Dash by Letaba River Lodge op Saterdag, 11 November.

Te midde van mistige, koel weer het die spanne behoorlik gegly, geduik, gekruip en geskarrel om heelhuids die 3 km hindernisbaan met 15 uitdagende punte kaf te draf.

Merensky se Tiger Tamers, Dirk Albertyn, Dillon de Lange, Josh Labuschagne, Wayne Coppen en Paddy Loam het koning gekraai tussen 15 spanne in die hoërskole-afdeling. In die laerskole-afdeling het die Klofie Tigers 16 ander spanne modder in die oë geskop. ‘n Allemintige 55 volwasse spanne het kom eindjaarstoom afblaas, met die Honey Badgers wat die septer geswaai het. Plasieland het 3 onderwyserspanne ingeskryf (#Dogterskoshuis, #Seunskoshuis en #JaOnsIsFiksHoekomVraJy?) en alles gegee met “Dis ‘n Plasie-ding, jy sal nie verstaan nie…” op hul borskas.

Letaba River Lodge beplan om volgende jaar twee van hierdie pretkompetisies aan te bied, waaraan die Plasies beslis weer sal deelneem.