Sheldon byt vas by Akkedis

FOTO:
Voor: Jurgens Spaumer, Jodi Spaumer en Matthew Taylor.
Agter: Armand Cronjé, Sheldon Muller, Pierre Cronjé (afrigter), Trevor de Beer en Shaun de Beer (beseer).


Vir fietsryers in Limpopo is die berugte Akkedis bergfietswedren enersyds ‘n uitdaging, en andersyds ‘n verskrikking.

Ten spyte hiervan het ses fietsrymasjiene van Hoërskool Merensky op Saterdag, 11 Augustus, in Louis Trichardt vasgebyt en hul merk gemaak. Die Akkedis is so veeleisend, omdat die roete oor 35km met 1061m klim.

Sheldon Muller, graad 12, het die Merensky-gesegde: “’n Plasie gaan lê nooit”, gestand gedoen toe sy fietsketting 250m voor die wenstreep gebreek het. Hy het vasberade sy fiets oor sy skouer gegooi, genael vir die eindpunt en steeds ‘n eersteplek in die o.18-seunsafdeling ingeneem.

Nog podiumposisies het gegaan aan: Jodi Spaumer (3de, o.16 meisies) en Armand Cronjé (3de, o.18 seuns).

Jurgens Spaumer (o.14 seuns) het ‘n sewendeplek behaal, met Matthew Taylor en Trevor de Beer (o.16 seuns) negende- en tiendeplekke.