Fraai Leandie verander vroue

‘n Stampvol saal.

Gepoets en gepoleer het 260 moeders, dogters en vriendinne 2017 se Moeder- en Dogterfunksie op 14 Oktober te Plasieland bygewoon.

Soos altyd het die 25 gasvroue hierdie jaar geen moeite ontsien om Hoërskool Merensky se stampvol skoolsaal in ‘n verruklike denim-en-diamant prentjie te omskep nie.

Oud-leerling, Stephanie Buys, en Donné Oosthuizen (graad 11) het items gelewer, waarna van die matriekmeisies gepronk het met hul afskeidstabberds.

Die dames het in styl tee gedrink en vriendskapsbande hernu, terwyl gesmul is aan keurige versnaperinge.

Die kersie op koek was sonder twyfel vanjaar se gasspreker, Leandie du Randt Bosch. Hierdie besondere jong vrou het uit háár hart tot diep in die gehoor se hart gespreek. Sy het lesse uit haar lewenservaring en op eenvoudige wyse ‘n trefferresep vir ‘n vervulde lewe gedeel. Die reaksie van die skooldogters na afloop van die praatjie het getuig van hoe ‘n impak Du Randt Bosch in sestig minute gemaak het.

Merensky vertrou dat hierdie unieke geleentheid die perfekte inspuiting was om jaareindmoegheid ‘n kishou te gee en die skoner geslag aan te spoor om “die beste JY te wees”.