Frikkie kry sy vrou

‘n Groepie graad 8-dansers skoffel op die verhoog.

Jaar na jaar kan mens net jou hande saamslaan in verwondering wanneer jy die skiewiekonsert by Hoërskool Merensky bywoon.

Vanjaar se produksie, getiteld Frikkie soek ‘n vrou, was geskoei op die gewilde realiteitsreeks Boer soek ‘n vrou. Die 243 graad 8-leerders het binne 4 dae ‘n volledige konsert ingeoefen en op die planke gebring. Die uitvoerende komitee 2017/2018 verdien ‘n pluimpie vir die skerp teks met ‘n oorspronklike storielyn wat die gehoor ingelig het oor presies wat op Plasieland gebeur. Bydraend tot die sukses van die konserte was die dekor, kostumering, choreografie en klankbaan.

Blou harte het warm geklop toe die massakoor hul skiewielied uit volle bors sing en ‘n traan is gepink toe elkeen die voorreg gehad het om vir die eerste maal die beesklok te lui. Welkom, klas van 2022… Plasieland sien uit na groot dinge.