Goed, Beter, Merensky!

SENIOR WENNER: Suandrie Corbett.

FOTO:
SENIOR WENNER: Suandrie Corbett.


Leerders van Hoërskool Merensky het behoorlik gepronk by die 2017 Tzaneen Eisteddfod gala-aand op 28 September. Behalwe vir puik items op die verhoog, het die Plasie-kunstenaars ook geskitter met tientalle toekennings. Hierdie jaar het 6 hoërskole deelgeneem: Hoërskole Merensky, Frans du Toit, Ben Vorster, Curro Heuwelkruin, Stanford Lake College en The King’s Court.

Merensky leerders het hierdie jaar aan ‘n totaal van ongeveer 220 items in die hoërskole afdeling deelgeneem. 57 Plasies het individuele pryse ontvang.

Die toptoekenning, as algehele wenner van die Hoërskoolafdeling, is ingepalm deur superPlasie, Suandrie Corbett in graad 9. Dit is ‘n merkwaardige prestasie, aangesien hierdie eer gewoonlik vir seniors beskore is. Sy ontvang ‘n wisseltrofee, prestasiesertifikaat en R2 000 kontantbeurs. Corbett het in vier afdelings: Dans, Musiek, Afrikaans en Engels deelgeneem en lewer ‘n totaal van 20 individuele items. Volgens kriteria moet die wenner in minstens 3 afdelings deelneem, met ‘n minimum persentasie van 80% in elke afdeling.

Die volgende leerders het erkenning ontvang vir hoogste persentasie in elke graad bo 90%: Luzaan Spies (graad 8 – Dans), Retief Fourie (graad 8 – Engels), Handy Mosila (graad 9 – Dans), Miénke Lombard (graad 9 – Afrikaans), Suandrie Corbett (graad 9 – Musiek), Mampe Masete (graad 10 – Engels), Kesia Pohl (graad 10 – Afrikaans), Jordin Young (graad 11 – Engels), Casper Jordaan (graad 12 – Afrikaans), Cara Mia Baker (graad 12 – Musiek).

Luzaan Spies, Miénke Lombard, Kesia Pohl, Jordin Young, Casper Jordaan, Ruette Schoeman, Suandrie Corbett en Cara Mia Baker word vermeld as mees veelsydige deelnemers in elke graad met die hoogste gemiddeld.

72 Medaljes is toegeken aan talentvolle Plasies as kategoriewenners.

Afdelingswenners het ‘n prestasiesertifikaat, wisseltrofee en prestasiebeurse ontvang. Geluk aan Suandrie Corbett, wenner van die Engelse afdeling en Ruette Schoeman en Shani Rosslee wie saam die Afrikaanse afdeling gewen het.