Goud stap Strandloper

Lisa MaGuire, Jan-Carel van Niekerk, Luann Botha, Steph-Marie de Lange, Jenelle de Jonge, Jason Mellet, Liza-Ri Snyman en Kieran Albertus.

FOTO:
Lisa MaGuire, Jan-Carel van Niekerk, Luann Botha, Steph-Marie de Lange, Jenelle de Jonge, Jason Mellet, Liza-Ri Snyman en Kieran Albertus.


Agt leerders van Hoërskool Merensky het die afgelope skoolvakansie die laaste vereiste vir hul goue Presidentstoekennings voltooi.

Vanaf 3 tot 20 Julie het Lisa MaGuire, Jan-Carel van Niekerk, Luann Botha, Steph-Marie de Lange, Jenelle de Jonge, Jason Mellet, Liza-Ri Snyman en Kieran Albertus die gewilde 4-dag Strandloper-wandelpad aan die Ooskus, tussen Keimouth en Gonubie, gaan stap.

Dit was vir die groep ‘n belewenis om seelewe soos see-anemone, seesterre, seekatte, krewe en walvisse en dolfyne te sien. Op die strand tussen Haga-Haga en Beacon Valley het hulle selfs op die beendere en vel van ‘n walvis, wat twee weke vantevore uitgespoel het, afgekom.

Die leerders het vinnig besef dat mens nie ‘n strandwandelpad moet onderskat nie. Hulle moes soms oor ruwe, klipagtige terrein en rotse stap met ‘n paar gevaarlike kranse wat gesorg het vir benoude oomblikke. Die laaste dag moes die groep deur verskeie riviermonde swem en tydens die Gonubierivier-oorgang hul toue en oorlewingspakke inspan.

Na dié avontuurlustige staptog moet die groep nou hul joernale voltooi en indien om goue Presidentstoekenningsertifikate te ontvang. Hierdie toekennings is van groot waarde vir die leerders en word ook deesdae in aanmerking geneem wanneer aansoek gedoen word vir universiteitstoelating.

Hoërskool Merensky is trots op hierdie groepie Plasies wat die ekstra myl stap om hulself te verreik en hul  lewensvaardighede en ervarings uit te brei.