Goue kandidate op goue strande

PT Goud Stap 2019

FOTO:
Jaco van Staden, Hardus van Staden, Suandrie Corbett, Michaela Stanley, Kayla Gaigher, Meggan Cloete & Megan Meyer.


Sewe goue Presidentstoekenningskandidate van Hoërskool Merensky het van 25 tot 31 Maart, gedurende die skoolvakansie, die gewilde Strandloper-staproete aan die Ooskus tussen Keimond en Gonubie voltooi. Dié roete is al bekend onder die Presidentstoekenning-leerders, aangesien dit die derde groep van Merensky is wat die avontuur voltooi.

Die Strandloper strek oor drie nagte en vier dae. Seelewe soos see-anemone, seesterre, krefies en heelwat dolfyne is ook raakgesien. ‘n Hele paar Geocache’s is ook langs die verskeie roetes opgespoor.

Vir die Plasies klink stap langs die see idillies, maar hulle het vinnig ervaar dat dié ervaring nie net son, sand en see insluit nie – hul moes ook klipagtige terrein en rotse trotseer. Gevaarlike kranse het gesorg vir ‘n paar benoude oomblikke. Op die laaste dag is die groep uitgedaag met diep riviermonde waardeur hul moes swem. Tog was dit ook ‘n lafenis na ‘n lang, warm dag.

Die stappers, Jaco en Hardus van Staden, Suandrie Corbett, Michaela Stanley, Kayla Gaigher, Meggan Cloete en Megan Meyer, is opgewonde om nou hul joernale te voltooi vir indiening, sodat hul uiteindelik met die goue toekenning in die hand kan staan.