Goue Presidentstoekenners stap langs die see

Herman Grové, Ryan Jackson, Amelia Middleton, Chelsea Schlebusch en Anri McLean.

FOTO
Herman Grové, Ryan Jackson, Amelia Middleton, Chelsea Schlebusch en Anri McLean.


Vier Presidentstoekenners en drie onderwysers van Hoërskool Merensky het van 6 tot 13 April meer as 1500km gereis om aan die Oos-Kaapse kus die bekende Strandloper-staproete aan te pak. Hierdie aktiwiteit is deel van die Goue Presidentstoekennersprogram.

Die staptog van meer as 80km het begin by Kei-Mouth en oor vier dae is daar al langs die kus, verby Double Mouth, Haga-Haga en Beacon Valley se pragtige strande tot in Gonubie (naby Oos-London) gestap.

Die groep het allerlei seelewe gesien: see-anemone, seesterre, krefies, seekastaiings (pampoentjies) en dolfyne was aan die orde van die dag. ‘n Rob en ‘n seekat wat van kleur verander, het ook deel uitgemaak van die avontuur.

Alhoewel net seesand verwag is, moes die stappers soms oor klipperige terrein stap en selfs, met behulp van kettings, oor hoë kranse klim. Met rugsak en al is die groep deur riviermonde en oor hoë sandduine. Hierdie verrassings het vir baie pret gesorg en was van onskatbare waarde vir dié doelgerigte Plasies wat hierdie jaar die “groot goud” najaag.

Die stappers bedank mee. Yolandé Rautenbach en Ada Venter en mnr. Seph Oosthuizen wat hul ondersteun het op die staptog.

Gly na Merensky se Presidentstoekenning Facebookblad, “HS Merensky President’s Award”, vir meer nuus en foto’s.