Goue status vir Plasiesport

MJ Bench

Plasiesport het op Saterdag 23 April, tydens hul tagtigjarige feesnaweek, ook pure liga lekkerte ervaar teen Hoërskool Louis Trichardt. Bykans al sportspanne het seëvierend van die veld gestap.

Op die hokkieveld het die Plasies gewys wie’s baas. Die o.14 dogtershokkiespan het die toon aangegee met ‘n indrukwekkende 7-0 sege, waarna die o.15’s 2-0 gewen het. Die o.16’s het naelskraap verloor met 1-2, en die 2de span wen 1-0. Die 1e span het egter die hokkie-septer geswaai met ‘n 7-0 oorwinning. Altacia Gubitz slaan 3 doele, Lily Pohl, Corlie van der Merwe, Delene O’Neill en Pat Madelane het ook die telbord laat sing.

Die seuns het nie op hul laat wag nie, met die o.15 span wat breed glimlag met ‘n 8-2 oorwinning. Luann Botha, Arné le Grange, Ryan Jackson en Dillon de Lange het almal die bal in die doelhok gedeponeer. Die eerstespan het in ‘n taai wedstryd die knoop deurgehaak, met ‘n 2-0 wen. Augustine Chiloane en JJ Davis het doele aangeteken.

Op die sokkerveld het Merensky se juniorspan koning gekraai met 4 doele teen 0. Die seniorspan kon hierdie keer nie die pyp rook nie, en verloor 2-1. Plasie skaakspelers het ook in 2 rondtes teen Louis Trichardt meegeding. In die eerste rondte het die spanne gelykop gespeel. Louis Trichardt het die tweede rondte gewen met ‘n 14-10 telling.

Op die netbalbane het die Plasie-spelers hulself weer laat geld. Ongekende hoë tellings het die wedstryde gekenmerk.  Die o.15A’s skiet 34 suksesvolle doele, teenoor die Triegies se 12. Die o.16A’s sit die segetog voort met 31 doele teenoor 5. In die seniorkamp het die o.17A’s met 22-8 geseëvier, en die gewilde 1e-span beklink die stryd met ‘n super 39-14 oorwinning.

Die Plasie-rugbymanne het op die dag genoeg byt gehad om hul teestanders goed die loef af te steek. In ongekende hitte het elke span gefokus op die taak voorhande, en met drif hul opponente met amper elke wedstryd op die agtervoet gehou.  Die o.14A’s het afgeskop met ‘n pragoorwinning van 31-10. Die o.14B span speel baas van die plaas met ‘n 51-0 triomf. Die o.15A’s val vas met ‘n 5-29 telling. Daarna het die o.16A seuns vasberade geveg vir hul 22-14 wen. Die 2de span, die Ratels, draai die o.15A’s se ongeluk om, met 29-5 op die telbord.

Die 1stes het die kroon gespan met ‘n wedstryd wat vir die volgende tagtig jaar onthou sal word. ‘n Stampvol pawiljoen het meegevoer toegekyk hoe die Plasie-vyftiental alles in die stryd werp en geskiedenis help skryf. Sewentig minute van meedoënlose aanval het opgebou tot ‘n goue oorwinning van 66-14. Tagtig punte. Geen toeval vir tagtig jaar van toewyding, tradisie en geesdrif. Dis bewys: ‘n Plasie gaan lê nooit.