Hierdie Plasie kán skryf

Imcke van Vuuren

FOTO:
Imcke van Vuuren.


Imcke van Vuuren (graad 12) van Hoërskool Merensky is pas aangewys as nasionale wenner in die prosa-afdeling van die POORT-Skryfkompetisie vir hoërskoolleerders in Suid-Afrika en Namibië, met haar skryfstuk: Blou.

Die POORT-Skryfkompetisie is ‘n projek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat ten doel het om skeppende skryftalent in Afrikaans by hoërskoolleerders aan te moedig en sodanige kreatiwiteit uiteindelik te waardeer en aan ‘n groter gehoor bloot te stel. Hierdie kompetisie vind al vanaf 1971 plaas en gaan jaarliks van krag tot krag! Die kompetisie skep ‘n forum om leerders wat oor skryfpotensiaal beskik te identifiseer en aan hulle blootstelling te gee deur middel van die Poort-publikasie wat jaarliks verskyn met gekeurde werk in die genres prosa en poësie.

Skole se graad 10-, 11- en 12-leerders oor die hele RSA en Namibië word uitgenooi om deel te neem. Uit elke skool word daar tot 25 kreatiewe bydraes gekeur en na die SA Akademie gestuur vir evaluering deur ‘n keurderpaneel van vier kundige keurders.

Uit die Skryfkompetisie se aangewese talent word daar sedert 2012 ook 10 toppresteerders per genre deur die keurders aangewys en gedeeltelik geborg. Hierdie tien potensiële skrywers word dan deur die SA Akademie genooi om aan die Universiteit van die Vrystaat gedurende die Julie-skoolvakansie ‘n Skrywerslypskool by te woon waar hulle deur kundige en bekende skrywers en uitgewers ge“slyp” word om nog beter skryfwerk te lewer.

Alhoewel Hoërskool Merensky jaarliks leerders het wat bydraes tot die publikasie lewer, is dit die eerste keer dat Plasieland spog met ‘n nasionale wenner.