Imcke skuur skouers met bekendes

Imcke van Vuuren, ‘n graad 12-leerling van Hoërskool Merensky, is vroeër aangewys as wenner van Die Poort se prosa-afdeling met haar kortverhaal, Blou.

Tydens ‘n glansgeleentheid het Imcke op 18 Julie by die Groenkloofkampus in Pretoria haar prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang van die voorsitter, Prof Irma Eloff.

Sy het onder andere kontant en ‘n skryfkursus by UOVS as deel van haar pryse ontvang.

“My brein het amper ontplof van al die bekendes wat ek ontmoet het – wat ‘n voorreg!”, babbel Imcke as mens haar uitvra oor die aand. Bekendes in letterkundekringe soos Leon van Nierop, Sophia Kapp en Heilna du Plooy het op ‘n yskoue aand harte laat warm klop.

Van Vuuren het ook twee oud-Plasies, uit die vroeg sestigs, by die geleentheid raakgeloop en kon hulle verseker dat Merensky se waardes en tradisies steeds geëer word.