Interhoër ‘n skouspel!

Leoné Slabbert

Op Vrydag, 22 Februarie, was Hoërskool Merensky gasheer vir die jaarlikse Soutpansberg Atletiek Interhoër, wat hierdie jaar op Plasiepark aangebied is.

Hoërskole Pietersburg, Frans du Toit, Eric Louw, Louis Trichardt, Merensky, Northern Academy en HTS Tom Naudé het op Plasieland kragte gemeet.

Behalwe vir die vertonings op veld en baan, het die skole se sangspanne gesorg vir ‘n skouspel op die pawiljoen. Reeds vroegoggend het die sangspanne hul plek ingeneem op die hoofpawiljoen. Elke skool se dirigente kon in 4 minute hul geesstorie vertel tydens die opkomsgeleentheid. Jak de Priester, wat die vorige aand by Merensky opgetree het as deel van die nasionale OPTOG!-projek, het per helikopter arriveer en die skole se gees behoorlik aangeblaas met die gewilde “Roer jou voete”.

Merensky was voor in die koor met ‘n aanskoulike opkoms, terwyl Frans du Toit en Tom Naudé die tweede- en derdeplekke ingepalm het. Die trofee vir “Sang & Ondersteuning” is met 1 punt voor die Plasies se neuse weggeraap deur die Fransies van Phalaborwa. Merensky se dirigente beklee die derdeplek, naas HTS Tom Naudé en wenners Frans du Toit.

Die algehele geesbeker is ook saam Phalaborwa toe, met Merensky wat as naaswenners wegstap en HTS Tom Naudé in die derdeplek.

Op die atletiekveld het Elandri Janse van Rensburg ‘n 23-jaar oue rekord met 7.8m gebreek in haar spiesgooi, dogters 14, item. Haar nuwe rekord van 38.68m het vir haar 1150 punte op die ABSA-tabel besorg (die maksimum wat ‘n atleet kan verdien). Sy is ook aangewys as die beste dogter veldatleet en het ‘n trofee ontvang vir die beste spiesgooi item. Bo en behalwe dit is sy bekroon as Junior Victrix Ludorum vir die dag.

Valley Ngobeni (seuns 15) was ook in die kollig deur die trofee te ontvang vir die beste hoogspring item.

Een van die hoogtepunte van die dag was die aanskoulike onderwyseraflositem wat gewen is deur die Plasiespan. Hulle raap ook die Beste Sportmangees-trofee op.

In totaal het die Plasies 102 medaljes verower: 25 goud, 43 silwer en 34 brons.

Die Plasies spog ook met ‘n algehele tweedeplek met 681 punte (nadat die seuns- en dogterspanne tweede geeïndig het), teenoor PHS se 924 punte. Louis Trichardt behaal 434 punte en eindig derde.