Langasem Christelle skop stof in oë

Die landloop span

FOTO: Anri McClean, Jenelle de Jonge, Christelle Coetzer en Sancha van Niekerk.

Die Noordvaal Landloop Kampioenskappe het op 29 Augustus onder droë en baie warm weersomstandighede in Potchefstroom by die NWU PUKKE se sportgronde plaasgevind.

By hierdie puik georganiseerde byeenkoms het Merensky Hoërskool se junior dogters hul staal gewys teen 21 ander spanne wat Menlopark, Afrikaans Hoër Meisies, EG Jansen, Garsfontein, Kempton Hoërskool, PHS en die gedugte span van Hoërskool Vorentoe ingesluit het.

Binne die eerste 200 meter het die atlete en toeskouers reeds besef dat Plasieland se Christelle Coetzer nie op haar gaan laat wag nie. Sy het monde op die pawiljoen laat oophang, en mede-atlete letterlik na hul asems laat snak toe sy regdeur die wedloop die voortou neem en die pas aangegee het. Oor ‘n afstand van 4km was haar tyd van 9:14:23 25 sekondes vinniger as die naaswenner.

Haar spanmaats, Sancha van Niekerk, Anri McClean en Jenelle de Jonge, het ook mooi presteer en gesorg vir ‘n span-oorwinning oor PHS wat twee plekke na die Merensky span geëindig het.

Met slegs twee skole uit Limpopo wat deelgeneem het, het Merensky beslis gewys dat die Noorde nie onderskat moet word nie.  Christelle Coetzer het uit die stryd getree as die Junior Noordvaal Kampioen.

Merensky wens haar en Anri McClean ook sterkte toe met die SA landloop kampioenskappe wat binnekort in Middelburg plaasvind.