Lof vir Merensky muso

Janco Blignaut saam met sy tutor, me. Ingrid Linde.

FOTO:
Janco Blignaut saam met sy tutor, me. Ingrid Linde.


Janco Blignaut, ‘n graad 11-leerder van Hoërskool Merensky, het onlangs sy UNISA graad 7-klaviereksamen met lof (83%) geslaag. Hiermee word hy die derde Plasie in die afgelope 7 jaar wat hierdie kwalifikasie by sy matrieksertifikaat kan voeg.

In musiekkringe staan Janco bekend as ‘n meester op klaviergebied. Hy vertel dat hy skaars ses weke voor die eksamen een van sy stukke verander het. “Ek moes omtrént oefen om Mozart se Rondo in D Majeur, K485 op dieselfde standaard as die ander twee stukke: Fauré se Romance sans paroles Op 17 nr 3, en Scarlatti se Sonate in D mineur te kry”, skerts hy.

Op navraag erken Janco dat hy reeds op 8-jarige ouderdom besef het dat hy en sy Steinway daarvan hou om musiek te maak. “Wanneer daar ‘n waarderende gehoor is, maak dit al die ure voor die klawers die moeite werd.”

‘n Veer in die hoed vir Merensky MDDK se musiektutor, me. Ingrid Linde, is die feit dat al haar leerlinge die afgelope praktiese eksamen met lof geslaag het – voorwaar ‘n puik prestasie.