Mari se lewe is ‘n verhoog

Hoërskool Merensky se eie Mari Weber (Kultuurbestuurder) is op 17 Maart deur die Tzaneen Sakekamer vereer met ‘n meriete sertifikaat vir uitstaande diens gelewer aan die gemeenskap.

Mari is al vir meer as 40 jaar betrokke by kultuur en het 34 jaar gelede haar eie drama-ateljee in Tzaneen begin. Sy skryf self stukke soos monoloë, samesprake, eenbedrywe en tonele waarvan heelparty reeds in bundels opgeneem is. Tussendeur doen sy vertaalwerk en redigering. In 1991 is sy toegelaat as beoordelaar by die Raad van Afrikaanse Beoordelaars, en beoordeel verskeie Eisteddfods en kunswedstryde landwyd.

Mari woeker nie net agter die skerms nie, maar tree self op in verskeie eenvrouvertonings en musiekteater. Haar werk het nie ongesiens verbygegaan nie en word sy in 2004 ‘n afstandslektor by die Kollege vir Spraak en Drama (SA), en dien vanaf 2010 as eksaminator.

Hoërskool Merensky het Mari fyn dopgehou en in 2011 aanvaar sy die pos as kultuurbestuurder by die skool. Sy is van onskatbare waarde by die MDDK (skool vir musiek, modelwerk, dans, drama en kuns by Merensky) en hou haar ook besig met, onder andere, ATKV-redenaars, slypskole vir onvoorbereide toesprake, voorbereiding van groepitems en solo’s vir die plaaslike Eisteddfod, WordWorx (‘n kreatiewe skryfskool), “Thrilling Thursdays” (‘n vertoonvenster vir die MDDK-talent by Merensky), Pop-Ups (‘n gewilde, lekkerkry kultuuraand met vertonings deur talentvolle Plasie-kunstenaars) en ATKV-koorkompetisies kry ook lewe onder haar bekwame hande.  In 2012 skryf en regisseur sy ‘n poppeteater, Afrikaners is plesierig, vir die plaaslike ATKV tak. Hierdie stuk word bekroon as die beste ATKV projek van die jaar.

Mari se kreatiwiteit en liefde vir kultuur kan nie geblus word nie, en werk sy tans aan ‘n nuwe skets vir opening einde September. Sy is ook besig met die beplanning van ‘n vertoning deur Amanda Strydom by Hoërskool Merensky in Junie vanjaar.

“My lewe is ‘n verhoog!”, merk Mari op. Hoërskool Merensky en die Tzaneen-gemeenskap in besonder sê dankie vir dit wat al vermag is en sien met verwagting uit na dit wat nog kom. Mag hierdie groot gees se kultuurlus nooit geblus word nie!