Massadeelname by Interhuis Atletiek

Die skooljaar het skaars begin of man en muis op Plasieland het op Donderdag 14 Januarie op die atletiekbaan vergader om te wys hul laat in 2016 geen gras onder hul voete groei nie.
Ten spyte van die hitte, was die gees op die pawiljoen aansteeklik, met al die graadgroepe wie mekaar lekker aangespoor het. Hierdie jaar was uitsonderlik, aangesien die graad 12’s sowel as die graad 8’s die grootste geraas gemaak het, en dus die geesbeker deel.

Verskeie rekords het in die slag gebly, wat groot dinge belowe vir die interhoërbyeenkoms in Phalaborwa te Frans du Toit op 19 Februarie. Veral die veldatlete het geskitter, en is Lourentia van Dyk en Tristan Patrick die beste juniors. Tussen die seniors kon niemand kers vashou by Lilly Pohl en Richard Coleman nie.

Op die baan het Christelle Coetzer weereens nie teleurgestel nie, en word as die beste junior dogter aangewys. Ignatius Stucki is die beste junior seun. Sancha van Niekerk en Noko Malatji is onderskeidelik die beste senior baanatlete.

Die toekenning vir Junior Victrix Ludorum is gemaak aan Laurentia van Dyk, met Lilly Pohl as die Senior Victrix Ludorum. Ruan van der Schyff is die Junior Victor Ludorum met Noko Malatji as die Senior Victor Ludorum.