Merensky 1ste in Mopani

2018 Matriekuitslae

“Ek het nooit eintlik daaraan gedink dat ek ‘n slimkop is nie, maar toe ek in graad 8 die skool se akademiese top 10 haal, het ek besef ek is dalk…”, aldus Carmi Venter, wat 8 onderskeidings in haar 2018 matriekeksamen aan Hoërskool Merensky behaal het. Sy is ook die toppresteerder op Plasieland met ‘n gemiddeld van 91%.

Carmi sê dat Wiskunde haar gunstelingvak was en dat passievolle onderwysers haar aangespoor en geïnspireer het.  In haar vrye tyd is sy ‘n familiemens wat in die atletiekseisoen aan velditems deelgeneem het en ook die klavier laat dreun het.

Op die vraag wat haar wenresep is, het sy gelag en geantwoord: “Boude op die stoel!”

Carmi is gekeur om medies aan TUKS te studeer en haar boodskap aan die Plasies is: “Jý maak jou eie toekoms. As jy besluit om iets te doen, gaan voluit!”

Anya Glazer, wat ook met 8 onderskeidings spog, reken: “Ek het nooit die onderwysers geglo wanneer hulle gesê het dat ek slim is nie”, maar vandag bedank sy almal wat haar op hierdie wyse aangemoedig het.

Behalwe vir die akademie het Anya aan landloop deelgeneem en ook haar silwer Presidentstoekenning behaal.

Haar harde werk is beloon met ‘n gemiddeld van 90.5%. Sy glo dat elke leerder sy/haar eie studiemetode moet ontdek en konsekwent toepas. Vir haar het die maak van opsommings die deurslag gegee.

Anya is ingeskryf vir B.Com Beleggingsbestuur by TUKS en is erg opgewonde oor die nuwe hoofstuk in haar lewe.

Hoërskool Merensky spog weer hierdie jaar met uitstekende 2018 matriekuitslae. Die 186 matrikulante oes 249 onderskeidings. Dit is ‘n gemiddeld van 1.3 onderskeidings per kandidaat.

96.2% van die kandidate kwalifiseer om by hoëronderwysinstellings te gaan studeer: 76% Baccalaurus kandidate en 19.8% diploma kandidate met ’n slaagsyfer van 97.3%.

Behalwe vir Carmi en Anya se 8 elk, het Chanel Dohse en Jason Mellett elkeen 5 onderskeidings behaal. 5 Leerders spog met 4 onderskeidings en 12 leerders met 3 onderskeidings.

Hierdie puik prestasie sorg dat die Plasies nommer 6 in die top 10 skole in die Limpopo provinsie inneem en as topskool in die Mopani-distrik gekroon is (die enigste skool in die Mopani-distrik wat onder die top 10 in Limpopo val).