Merensky-boogskiet beste in SA

EERSTESPAN: Canel Jackson, Benèche Jackson, Ockert le Roux (afrigter), Ryan Jackson en Janco Theron.

Vreugdevure brand hoog op Plasieland nadat die boogskietspan op 19 en 20 November weer uitgeblink het, en Merensky vir die derde keer in vier jaar aangewys is as die top-boogskietskool in die land. Merensky Boogskiet het ook vroeër vanjaar die toekenning vir die beste binnenshuise boogskietspan ontvang.

Elf knap skuts van Merensky se klub het tydens die naweek van 19 November deelgeneem aan die gesogte ABO nasionale kompetisie in Pretoria. Die skuts was in groepe van vier tot nege verdeel, waar twee verskillende bane met twintig teikens elk gesorg het vir strawwe kompetisie. Buiten die versengende hitte en winde, moes deelnemers berge, dale en strome trotseer.

‘n Tevrede span het op Sondag na Tzaneen teruggekeer met ‘n bus vol toekennings.

UITSLAE

Benèche Jackson, Canell Jackson, Sean Hunt (twee keer), Ricus Warmenhoven en Schalk Warmenhoven (twee keer) kwalifiseer op provinsiale vlak.

Ryan Jackson, Janco Theron en Dawie Theron skiet nasionale kwalifiserings.

Benèche Jackson en Ryan Jackson behaal elk ‘n gesogte Protea kwalifiserende telling.

Janco en Dawie Theron verwerf albei provinsiale kleure, en Benèche Jackson stap met nasionale kleure weg.

Dawie Theron wen goud in die MBR-afdeling, silwer medaljes gaan aan Benèche Jackson (FY) en Ryan Jackson (YMR) en Schalk Warmenhoven ontvang ‘n brons medalje in die MSR-afdeling.

Ryan Jackson is aangewys as Limpopo se Tradisionele Skut van die Jaar.

Die hoogtepunt van die naweek was toe altwee die deelnemende Merensky-spanne met podiumplekke vereer is. Die tweedespan (Lin-Mari Theron, Sean Hunt en Dewald Haagner) eindig derde, terwyl die eerstespan (Janco Theron, Benèche, Ryan en Canell Jackson) die triomfantlike kroondraers is.