Merensky Boogskietklub beïndruk

Op 20 en 21 Mei het agtien skuts van die Merensky Boogskietklub deelgeneem aan die tweede ABO-kompetisie van die jaar. Die Tripple Crown het plaasgevind te Wildcrete in Pretoria.

Daar aangekom is die skuts in groepe verdeel en moes elke groep 20 teikens kafdraf. Die skuts moes berge en dale trotseer, oor water skiet en klippe en lang gras baasraak. ‘n Dinosourus-teiken in die veld het die spanning verlig en gesorg vir lekker vermaak.

Die Plasie-skuts het weereens gewys wie baas is in die veld. Nasionale tellings is verwerf deur Ricus Warmenhoven en André van der Merwe, terwyl Beneché Jackson, Martin Mostert en Lin-Mari Theron provinsiale tellings raakgeskiet het.

Goue medaljes is toegeken aan Dawie Theron, André van der Merwe, Izelri Theron en Martin Mostert. Lin-Mari Theron het ‘n silwermedalje ontvang en Canell Jackson, Armand Wiers en Beneché Jackson brons.

Merensky se eerstespan (Lin-Mari Theron, André van der Merwe, Canell Jackson en Sean Hunt) het aan die einde van die dag tweedeplek algeheel behaal, met die tweedespan (Rohan Wewege, Ashley Hunt en Armand Wiers) in die derdeplek.

[supsystic-gallery id=56 position=center]