Merensky dra nasionale boogskietkroon

Boogskiet Eerstespan

HOOFFOTO:
MERENSKY SE EERSTESPAN WEN GOUD: Beneche Jackson, Pieter van der Merwe, Renart Botha en Janco Theron.

Die vreugdevure brand hoog in Plasieland nadat Hoërskool Merensky vir die tweede keer in drie jaar aangewys is as die top boogskietskool in die land.

Dertien knap skuts van Merensky boogskietklub het die afgelope naweek deelgeneem aan die laaste ABO-kompetisie van die jaar te Pretoria.

Die skuts was in groepe van vier tot nege verdeel. Drie verskillende bane met twintig teikens het gesorg vir strawwe kompetisie. Buiten die versengende hitte, moes deelnemers ruwe terrein met berge, dale en strome trotseer.

Dit was ‘n moeë, maar tevrede span wat teruggekeer het na Tzaneen met ‘n bus vol toekennings.

Op dag 1 het Beneché Jackson, Janco Theron en Renart Botha provinsiaal kwalifiserende tellings geskiet.

Dag 2 het vir nog meer opwinding gesorg en was Merensky se naam op almal se lippe nadat Pieter van der Merwe daarin geslaag het om sy Protea kleure te verwerf. Kort op sy hakke volg Beneché Jackson, Janco Theron en Renart Botha met nasionale kleure. Lin-Mari Theron, Carissa Ivy en Ryan Jackson het provinsiaal gekwalifiseer.

Goue medaljes is toegeken aan Canell Jackson (wenner van die Triple Crown in haar kategorie (FC)) en Beneche Jackson (FY).

Pieter van der Merwe is ook die wenner van ‘n silwer medalje in sy kategorie (FC) van die Tripple Crown.

Al drie die deelnemende Merensky-spanne is met podiumplekke vereer. ‘n Brons medalje gaan aan die tweedespan (Carissa Ivy, Ryan Jackson en Lin-Mari Theron). Die junior span (Braam de Clerk, Canell Jackson en Cornelius Oosthuizen) toon hul staal en verdien die silwer medalje.

Die trots van Plasieland, naamlik die eerstepan (Pieter van der Merwe, Janco Theron, Renart Botha, Beneche Jackson) is die triomfantelike draers van die goue medaljes.