Merensky juniors volstoom vorentoe

Die o14-wenspanne.

FOTO:
Die o14-wenspanne.


Op Saterdag, 9 Junie, het die junior Plasiespanne in die Limpopo semi-finaal by Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane rugbysake uitgespook.

Die o.14A-span het teen Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal staal getoon en 25-17 gewen. Drieë word aangeteken deur Henro Delport (2), Janco Grobler (1) en Theoniel Kleynhans (1). Reese Coetzee het 1 van die 4 drieë verdoel en 1 strafskop deur die pale gesit. Met hierdie pragoorwinning is hulle plek verseker in die Limpopo-finaal op 21 Julie wanneer hul teen die o.14-span van Hoërskool Frikkie Meyer gaan kragte meet.

 Die o.14B-span wen Hoërskool Frikkie Meyer met ‘n verstommende 71-5. Uitblinker, Hennie de Wet het 3 maal die doellyn besoek en die opponente laat les opsê met briljante spel. Dié span tree uit die seisoen as Limpopo ligawenners.

Slegs 2 punte het die Plasie o.15A-tal se ligadroom verydel, nadat Hoërskool Piet Potgieter die taai wedstryd 17-19 beklink. Tog gaan hulle nie die tokse ophang nie, aangesien hul deurdring na die Virsekerbeker-toernooi.

Merensky se o.15B’s sluit ook ‘n suksesvolle seisoen as Limpopo ligawenners af, deur 20-17 met Potties af te reken.

Die o.16A-span is na hul oorwinning oor Hoërskool Frikkie Meyer, op 26 Mei, direk deur na die Limpopo-finaal. Hier sal hul Hoërskool Ellisras die stryd aansê. Na 9 vriendskaplike wedstryde tree die o.16B’s ook as 2018 Limpopo ligawenners uit.