Merensky krieket Limpopo ligawenners

1ste Krieketspan: 2016 Limpopokampioene.

Hoërskool Merensky se 1ste krieketspan is op Saterdag, 24 September, vir die vyfde keer in ses jaar, na ‘n kragmeting teen Pietersburg Hoërskool gekroon as die Limpopo skoleliga kampioene. Hierdie wedstryd het op Unicorn Preparatory School se velde plaasgevind.

Die Plasies het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Aan die begin het PHS vasgebyt en na 10 beurte gestaan op 51 vir 1 paaltjie. Merensky se Blake Linder het egter ander planne gehad en hulle toporde laat kantel. Na 17 beurte, teen waterbreek, het PHS gestaan op 73/7. Daarna het dit nie lank geneem voordat almal uitgehaal is vir slegs 127 lopies nie.

Blake Linder was die ster van die dag met die bal. Hy het 8 beurte geboul, 5 paaltjies geneem en slegs 24 lopies van sy boulwerk afgestaan.

In Merensky se kolfbeurt word die 127 teiken blitsvinnig, binne 17 beurte, verbygesteek danksy Nyiko Shikwambana en Timothy Elphinstone se verwoestende kolfwerk.

Merensky wen hierdie wedstryd met ‘n skitterende 10 paaltjies. Alex Jardim (oudleerling van Unicorn Preparatory School) het voor die wedstryd opgemerk: “Ons kan nie verloor nie. Ek het van graad 4 af nog nie een wedstryd op Unicorn se velde verloor nie.”

Plasieland se o.15-span het ook teen PHS kragte gemeet en as Limpopo-naaswenners uit die stryd getree. Merensky is gevra om eerste te kolf en kon 150 lopies aanteken. Gerhardus Fourie het vasgebyt en 61 lopies, van slegs 59 balle, aangeteken.

PHS het die telling verbygesteek met 8 paaltjies plat. Doran Kleynhans het 4 paaltjies geneem en slegs 37 lopies afgestaan in sy 10 beurte. Merensky verloor die wedstryd naelskraap met 2 paaltjies. Hoërskool Merensky bedank Aubrey van Reenen wat in die seisoen as afrigter van die o.15-span aangestel is en sien met verwagting uit na die 2017-seisoen.

Die Merensky 1ste meisiespan het op Woensdag, 21 September ook in die Limpopo finaal gespeel teen Southern Cross. Met ‘n belowende, jong span het hulle die wedstryd verloor met 4 paaltjies.

Plasie krieket se oog is verseker op die regte kolfblad, aangesien al die krieketspanne aan hierdie jaar se finale ligawedstryde deelgeneem het.