Merensky-krieketweek bly die gewildste

Merenskyweek senior dream team

Een van die gewildste winterskoolvakansie-aktiwiteite in Tzaneen was weer hierdie jaar die Merensky-krieketweek. Vir die 22ste keer het die Plasies spiere gebult en ‘n baie suksesvolle week aangebied.

16 Junior- en seniorspanne van Heidelberg Volkskool, Waterkloof, Middelburg Hoërskool, HTS Middelburg, Randburg, Eldoraigne, Garsfontein, Brits en EG Jansen het by die Plasies aangesluit vir ‘n week van kameradie, goeie sportmangees en uitnemende krieket.

Merensky het gebruik gemaak van hul eie veld, asook dié van Unicorn, Duiwelskloof, Ben Vorster en Laerskool Tzaneen om al die spanne te akkommodeer.

Hoërskool Merensky se seniorspan het 3 van hul 5 wedstryde gewen. Gerhardus Fourie, spankaptein, het vir die Plasie seniors, teen Heidelberg Volkskool, ‘n allemintige 120 lopies, nie uit nie, aangeteken met Mubin Patel wat in dieselfde wedstryd 54 lopies opgelewer het.

Tydens die gala-dinee op 28 Junie is Gerhardus Fourie opgeneem in die senior Merenskyweek “Dream Team”, terwyl Abri Wheelan vir die junior “Dream Team” gekies is wat in Junie 2019 saam met Merensky se eerstespan in Sri Lanka gaan toer.

Hoërskool Merensky bedank graag African Jacana, Westvalia, Limpopo The Fresh One, HK Houers, Vision Sport, Riebert Pretorius, Beerseun Boerdery, VRB Boerdery/Vervoer, Park Slaghuis en Nico Ludick vir hul borge en ondersteuning.