Merensky MDDK wys wenners aan

MDDK Prysuitdeling - Suandrie Corbett & mev. Mari Weber

Tydens die laaste Dawerende Dinsdag-geleentheid van 2016, is verskeie musiek-, dans-, drama- en kunsleerders van Hoërskool Merensky met trofees vereer vir hul prestasies.

Die toptoekenning vir die mees veelsydige leerder is toegeken aan Suandrie Corbett. Hierdie pragtige wisseltrofee is gemaak en geskenk deur mnr. Schalk Warmenhoven. Suandrie het behoorlik die verskeidenheid genre’s, aangebied deur die MDDK, geniet. Sy slaag haar Unisa graad 4 musiekteorie-eksamen en lê ook haar graad 5 balleteksamen met sukses af. Sy speel binnekort haar graad 4 Unisa dwarsfluiteksamen en neem verder drama- en moderne dansklasse, waar sy ook goed presteer.

By die dansafdeling word Hayley Stephenson in graad 11 aangewys as die beste moderne danser, terwyl Chris Bill, ook in graad 11, die trofee verower vir die beste kontemporêre danser.

Die instrumentaliste staan ook geen tree agteruit nie en verdien Angie Nel in graad 12 ‘n trofee vir haar graad 7 ALMSA klaviereksamen, wat sy met sukses afgelê het. Janco Blignaut (graad 9),bewys sy meesterskap met die klawers tydens die graad 6 UNISA-klaviereksamen. Kieran Albertus is ‘n kitaarspeler om dop te hou – hy het ook sy UNISA graad 1 eksamen geslaag.

Op vokale gebied word Danzi Ivy aangewys as die mees verdienstelike sanger, en Anize Basson is die topkunstenaar in die kunsstudio.

Die beste toneelspelers is ook vereer: Bernice Cronjé in graad 12 vir haar prestasies by die Tzaneen Eisteddfod en Lize Crafford in graad 11 vir haar uitsonderlike toneelspel en improvisasie.

Merensky MDDK gaan van krag tot krag en sien met verwagting uit na 2017.  Registrasies open reeds einde November hierdie jaar – hou die pers dop!

MDDK Prysuitdeling - Mev. Megan Henning & Chris Bill
MDDK Prysuitdeling - Mev. Megan Henning & Chris Bill
« 1 van 4 »