Merensky prysuitdeling vereer harde werk

Op Donderdag, 25 Februarie het Hoërskool Merensky sy leerders vereer vir akademie, atletiek- en krieketprestasies by die jaarlikse herfsprysuitdeling. Die akademie- en krieketprestasies is einde 2015 behaal. Die atletiekprestasies spruit voort uit die pas afgehandelde seisoen.

Die gasspreker by dié besondere geleentheid was oud-Plasie, Celesté van Staden. ‘n Verskeidenheid items deur talentvolle leerders het glans aan die geleentheid verleen waar tientalle akademie- en sportprestasies met blou en silwer sertifikate beloon is.

‘n Paar leerders verdien vermelding: Atletieksterre Xhilovo Shibamba en Christelle Coetzer is aangewys as die Junior Victor- en Victrix Ludorums. In die senior afdeling het Noko Malatji die Senior Victor Ludorum beker huis toe geneem, en Lilly Pohl is die Senior Victrix Ludorum.

Meisieskriekettrofees is toegeken aan Lilly Pohl as beste kolwer en Cathleen Home as beste bouler en veelsydigste speler. Die seunskriekettrofees is reeds aan die einde van 2015 toegeken.

Onder die slimkoppe het Lize Mostert (graad 8 in 2015), Donné Oosthuizen (graad 9 in 2015), Belinda Nzadi (graad 10 in 2015) en Michelle Stevens (graad 11 in 2015) trofees ontvang vir beste graaddprestasies. Die trofee vir die beste prestasie in Informasietegnologie in graad 11 is ontvang deur Rhulani Ndlala. ‘n Trofee, geskenk deur Van Heerden Apteek, is oorhandig vir die beste prestasie in Wiskunde en Fisiese Wetenskap in graad 11. Michelle Stevens was die trotse ontvanger, en is beloon met ‘n  kontantprys van R1 000.

Hoërskool Merensky salueer hierdie leerlinge vir hul toewyding, en beloon hul graag vir dié welverdiende prestasies.