Merensky Rhino 7’s laat wildtuin gons

FOTO:
DIE MERENSKY A-SPAN
Agter: MJ Bench, Mikyle le Roux, MJ Mulder, Pieter van Rooyen, Almo Julies en Casper Jordaan.
Voor: Ettienn Slabbert, Rsaenge Kubayi, Freddie Lubbe, Noko Malatji, Wynand Scholtz en Joe Raspel.

Die jaarlikse Rhino 7’s toernooi het vanaf 25 September in Skukuza plaasgevind. Dit was die derde suksesvolle rugbytoernooi van dié aard.

Skoolspanne, -afrigters en ondersteuners het van heinde en verre opgetrek na die Kruger Nasionale Park om aan hierdie grootse inisiatief van Hoërskool Merensky deel te neem.

Hoërskole Ben Viljoen, DZJ, Die Anker, HTS Tom Naudé, Hoogenhout, LYNX, Merensky, Middelburg, Montana, Nelspruit, PHS, Potch Volkskool, Rustenburg en Wonderboom het in versengende hitte sake uitgespook vir die beker, plaat, bowl en skild.

Hoërskole Merensky en Montana het die eerste dag geopen, met Merensky wat 32-7 wen. Daarna het die Plasies ook met Lynx en HTS Tom Naudé afgereken.

Op dag twee het HTS Tom Naudé vir DZJ met ‘n telling van 61-7 gewen en so die skild ingepalm. PHS het Lynx 40-14 uitoorlê om die bowl te wen, Montana het die plaat gereserveer deur Wonderboom 12-10 te wen en Nelspruit het, vir die tweede jaar, as wenners van die toernooi uit die stryd getree en die beker opgeraap deur Potch Volkskool met 33-12 te verslaan. Hoërskole Middelburg en Merensky het die derde en vierde plekke aan die einde van die toernooi ingeneem.

Al die spelers en afrigters betrokke sal hierdie toernooi sekerlik onthou as een waar almal spesiaal gevoel het. Elke speler, afrigter en spanbestuurder het ‘n brons medalje ontvang vir deelname, terwyl die eerste en tweede plekke in die beker-, plaat-, bowl- en skild-finale weggestap het met ‘n silwer of goue medalje.

Hoërskool Merensky bedank graag die Treble-groep, NTK, VisionSport, Sunbake en Suid-Afrikaanse Nasionale Parke vir hulle groot bydrae om weereens van hierdie unieke geleentheid ‘n sukses te maak.