Merensky ruiters op galop

Die tweede Western Mounted Games kwalifiseerder vir 2016 is op 27 Februarie by Berbon Stables in Warmbad aangebied. 47 Ruiters het in 2 afdelings, naamlik skole- en ope-afdeling, gekompeteer.

Ruiters van Hoërskool Merensky was goed verteenwoordig en het puik presteer. Genevieve van der Merwe toon weereens haar staal. Sy was in 2014 die eerste ruiter in Limpopo wat vlak 7 behaal het, en sy is die naweek weer as kampioen op hierdie vlak aangewys. Genevieve het in twee vlakke deelgeneem: in vlak 1 op haar perd Doc Bughati verwerf sy 5 plekke en in vlak 7, op Mekadesh Zahra, verwerf sy 8 plekke waaronder 2 eerste plekke.

Wandri Janse van Rensburg het deelgeneem in vlak 4. Sy verwerf 7 plekke waaronder twee eerste plekke, en is aangewys as kampioen in die vlak.

Theo van der Merwe  het ook deelgeneem in vlak 4. Hy verwerf 6 plekke waaronder ‘n eerste plek en word aangewys as reserwe kampioen in die vlak.

Anri Janse van Rensburg het deelgeneem in vlak 7. Sy verwerf 5 plekke waaronder twee eerste plekke en is aangewys as reserwe kampioen.

Dawie van Jaarsveld het deelgeneem in vlak 1. Hy verwerf 5 plekke waaronder 3 eerste plekke en is aangewys as kampioen. Met sy goeie prestasie het hy ‘n vlak opgeskuif en verwerf ‘n verdere 3 plekke. Hy word ook aangewys as reserwe kampioen in die ope-afdeling.