Merensky se Superspelspan

FOTO:
Sheilah Bhuiyan, Anize Basson en Yasmine Joubert.


Deur Anize Basson (graad 11)

Op Maandag, 30 Julie, het tien woordslim Plasies aan die ATKV Spelathon se provinsiale ronde in Polokwane deelgeneem.

Maleis-Portugesisme, suinigheidsmaatreël, artilleriekaserne en gimnasiummilieus was net ‘n paar van die rilwoorde wat die deelnemers moes baasraak vir hierdie kompetisie.

In die graad 8 en 9 Afrikaans Eerste Addisionele Taal afdeling het Sheilah Bhuiyan met die louere weggestap, terwyl Antonio Borges ‘n derde plek verower het.

Vir die graad 8 en 9 Huistaal leerders is daar gevra om woorde soos radiografie, lisensiëring en ewebeeld te spel. Yasmine Joubert het ‘n tweedeplek behaal.

Hoërskool Merensky het vier uit die twaalf deelnemersitplekke gevul in die graad 10 tot 12 Huistaal afdeling. Hulle afdeling was besonder moeilik en woorde soos filatelievereniging en fisoterapeuties het die deelnemers gepootjie. Geluk aan Anize Basson (graad 11) wat al die ander deelnemers onder die tafel in gespel het.

Sheilah, Anize en Yasmine gaan op 13 Oktober in die nasionale ronde in Stellenbosch spel dat die spoeg spat.