Merensky sit die SUPER in superskool

FOTO
OP DIE TV-STEL: Juf. Claudia Olivier, Bianca Elbrecht, Casper Jordaan en Juan-Jacques Moller.


Die Laeveld kan op 4 September regop sit en aandag gee wanneer VIA TV (kanaal 147) se nuwe vasvraprogram vir Hoërskole begin.

Alle hoërskole in die land is genooi om deur middel van ‘n kort video in te skryf vir hierdie opwindende kompetisie, met die gewilde rymkletser en popsanger, Snotkop, as aanbieder.

Slegs tien skole is uiteindelik genooi om aan die programopnames in Johannesburg deel te neem en Hoërskool Merensky was die enigste skool in Limpopo wat die paal gehaal het.

Vier bloubloed superbreine, juf. Claudia Olivier, Casper Jordaan (graad 12), Bianca Elbrecht (graad 11) en Juan-Jacques Moller (graad 10) het hul lyf ‘n week lank superster gehou. Hul kennis van taal, wiskunde, algemene kennis en popkultuur is getoets.

Alhoewel die Plasiespan nie nou al die kat uit die sak mag laat nie, nooi hulle die hele wêreld uit om hierdie spesiale oomblikke vanaf 4 September met hulle te deel.