Merensky skuts op dreef

Dewald Haagner, Lin-Mari Theron, Benéche Jackson en Sean en Ashley Hunt.

FOTO:
Dewald Haagner, Lin-Mari Theron, Benéche Jackson en Sean en Ashley Hunt.


Merensky boogskuts het weereens tydens die SANAA somerveldkampioenskappe op 20 en 21 Januarie uitstekend gevaar. 8 Skuts het deelgeneem aan hierdie kampioenskap wat op Klippan, buite Carolina, aangebied is.

Die skuts het tydens 2 baie warm dae gemiddeld 7 ure per dag die son en veld trotseer. Elke skut het 4 pyle na 28 teikens, op ‘n afstand van 80 jaard, afgestuur.

Op dag 1 skiet Benéche Jackson en Martin Mostert ‘n provinsiaal kwalifiserende telling, terwyl Lin-Mari Theron en Canell Jackson spog met ‘n nasionale kwalifisering. Benéche verwerf ook haar provinsiale kleure. Ashley Hunt, Dewald Haagner, Benéche en Martin het elk ‘n persoonlike beste geskiet.

Tydens dag 2 sit Lin-Mari en Canell hul sege voort en skiet weer nasionaal kwalifiserende tellings. Hiermee verwerf albei nasionale kleure (4 nasionale tellings word benodig vir kleure). Martin styg uit en skiet ook ‘n nasionale kwalifisering, waarmee hy sy provinsiale kleure verwerf. Benéche skiet weer ‘n provinsiale kwalifisering en Ashley en Martin skiet elk ‘n persoonlike beste.

Canell en Dewald behaal goud in hul onderskeie klasse. Lin-Mari, Martin en Sean Hunt bring elk ‘n silwer medalje huistoe, terwyl Ashley brons verwerf. Benéche eindig 4de in haar klas.

Hierdie gesoute skuts berei hulself nou voor vir die wêreldkampioenskap wat in Oktober in Suid-Afrika plaasvind.