Merensky-skuts palm goud in

FOTO:
Voor: Ariane Marais, Ashley Hunt, Canell Jackson en Armand Wiers.
Agter: Rikus Faurie, Yolandi Potgieter (organiseerder), Benéche Jackson, Sean Hunt, Rohan Wewege, Schalk Warmenhoven, Morne Kleynhans jnr, Magdalena Kleynhans en Morne Kleynhans.


Een van die voorste gebeurtenisse op die 2018 Limpopo binnenshuise boogskietkalender was die Bushveld en Limpopo kampioenskappe by Eiland Spa, aangebied deur Hoërskool Merensky.

45 Skuts van regoor Limpopo het op 11 en 12 Augustus in 18 klasse deelgeneem. Merensky Boogskietklub is verteenwoordig deur 15 skuts wat weer puik resultate gelewer het.

Canell Jackson(JFBU), Ashley Hunt(JFFU), Rikus Faurie(JMBU), André van der Merwe(JMFU), Schalk Warmenhoven(VMBU), Rohan Wewege(YAMBU) en Sean Hunt(YAMFU) het goud ingepalm in die Bushveld kampioenskap. Silwer is verwerf deur Beneche Jackson(AFFU) en Armand Wiers(JMBU), terwyl Ariane Marais(JFBU) en Morney Kleinhans(JMBU) brons medaljes verdien het.

Rikus Faurie het ‘n provinsiale kwalifiserende telling geskiet, met Canell Jackson wat ‘n nasionale kwalifiserende telling baasgeraak het.

Op dag 2, in die Limpopo kampioenskap, het Canell Jackson, Ashley Hunt, Rikus Faurie, Schalk Warmenhoven, Rohan Wewege en Sean Hunt goue medaljes huis toe gevat. Benéche Jackson, Armand Wiers en André van der Merwe het silwer, en Ariane Marais en Morney Kleinhans brons verwerf.

Tydens hierdie geleentheid skiet Canell Jackson, Rikus Faurie en Armand Wiers nasionale kwalifiserende tellings. Jackson verwerf ook haar provinsiale kleure vir 2018/19.

Die skuts se volgende uitdaging is die Noord-Wes Provinsiale Veldkampioenskappe wat op 18 en 19 Augustus by Manzini Game Farm buite Potchefstroom aangebied word.