Merensky skuts tref nasionale kampioenskap

DIE ROBIN HOOD BENDE Van links na regs: Rohan Wewege, Sean Hunt, Ryan Jackson, Ashley Hunt, Canell Jackson, Lin-Mari Theron en Benno Kotze.

Tien vasberade skuts van Hoërskool Merensky se boogskietklub het die naweek van 18 tot 20 Maart aan die “South African National Field Archery Championship” (SANFAC) te Broederstroom deelgeneem.

Die nasionale kompetisie is bygewoon deur skuts van heinde en verre, ter voorbereiding van die wêreldkampioenskappe wat volgende jaar in Suid Afrika plaasvind.

Drie uitdagende dae en ‘n moeilike baan het baie deursettingsvermoë geverg. Die skuts moes ‘n gemiddeld van 7 ure per dag in die veld stap om 4 pyle elk na 28 teikens te skiet.

Die volgende skuts is bekroon met goue medaljes in hul verskeie kategorieë:
Lin-Mari Theron (YAFBU), Canell Jackson (JFBU), Beneché Jackson (YAFFU), Janco Theron (YAMBU). Rohan Wewege behaal ‘n silwer medalje (JMBU).  Dit sal die derde opeenvolgende jaar wees wat die Jackson-susters goud behaal by die Suid-Afrikaanse Nasionale Veldkampioenskappe.

Canell Jackson en Sean Hunt se tellings kwalifiseer vir provinsiale kleure. ‘n Skut moet in een seisoen drie kwalifiserende tellings skiet om kleure te verwerf. Benno Kotze (CMBU) verwerf so sy 2017 provinsiale kleure.

FOTO:
DIE ROBIN HOOD BENDE
Van links na regs: Rohan Wewege, Sean Hunt, Ryan Jackson, Ashley Hunt, Canell Jackson, Lin-Mari Theron en Benno Kotze.