Merensky-stappers verower Fanie Botha

Agter: Herman Grové (assistent), Elzette van Dyk, Marlu Mc Lean, Nwananga Mboweni en Belinda Nzadi. Voor: Valeriia Avdysh en Riëtte Warmenhoven.

Vrydagoggend, 29 April, het 6 dogters, wat deel vorm van die goue Presidentstoekenningsprogram, die Fanie Botha-staproete in Sabie aangepak. Merensky personeel, mee. Ada Venter, Yolandé Rautenbach en mnr. Seph Oosthuizen het die stappers vergesel. Die roete, oor ongeveer 55km moes binne vier dae voltooi word.

Dag een het by die Ceylon Hut begin. Die weer het saamgespeel en alhoewel dit effens warm was het die stappers na 9km hul eerste oornaghut by Maritzbos bereik. Die aand is afgesluit met braaivleis, kuier om die kampvuur, ‘n konsert onder die sterre en ‘n verfrissende koue stort.

Op die tweede dag het die stappers om agt uur begin stap aan die 14km roete na die Stables Hut. Die roete loop deur ‘n digte woud met fabelagtige plantegroei, mosbegroeide klippe en houtbruggies oor waterstrome. Min het die stappers geweet wat op hulle wag. Na net ‘n paar kilometer het die groot klim begin. Die roete was geen grap nie en “Fanie” is talle woorde toegesnou. Die stappers moes byna vertikaal klim. Nes die groep gedink het die einde is in sig het die pad nog ‘n paar meter hoër gekronkel. By ‘n 80m hoë waterval was dit het einde niet. ‘n Goeie 4km se stywe opdraendes het tot 2000m bo seespieël gelei. Klippe is gepak op ‘n gedenkstapel nadat die toppunt van die kranse bereik is. Teen vyf uur die middag is die oornaghut bereik. Dit was bitterkoud, maar die brawe stappers is beloon met ‘n vuurwarm bosstort.

Teen dag drie het die termometer tot slegs vier grade gedaal. Tydens die 16km stap, kon Graskop in die verte gesien word. Die laaste oornaghut is teen vier uur bereik.

‘n Dik laag mis het stappers op die laaste oggend begroet. Die laaste tog van 13.6km is aangedurf en die eindpunt teen elfuur bereik.

Soos ware Plasies het niemand bly lê nie (alhoewel amper almal vir Moeder Aarde op een of ander stadium gegroet het) en ‘n positiewe Plasiegees het tydens die 55km geheers.

Hierdie dapper-stappers kan daarna uitsien om in 2017 hul goue Presidentstoekennings te ontvang.