Merensky vereer presteerders

2018 Prysuitdeling

Hierdie jaar het Hoërskool Merensky se graad 12 en graad 8 tot 11 prysuitdelings weer seremonieel afgespeel in die Plasie-skoolsaal. Meer as 520 leerders is vereer vir hul akademiese-, sport- en kultuurprestasies in 2018.

Op 12 Oktober, tydens die graad 12-kerkdiens en -prysuitdeling, het die omliggende laerskole se hoofleiers ‘n woord van bemoediging aan die matrieks gebring. Daarna het Laerskool Tzaneen se graad 1’s en SAVF-Kleuterskool die gehoor vermaak.

Die eerste spesiale toekenning, “Boere-ordentlikheid”, het gegaan aan Simoné van den Bergh. Sy het hierdie toekenning ontvang omdat sy altyd beleefd, nederig, hulpvaardig en vriendelik is en respekvol teenoor haar onderwysers optree.

Die “UK-trofee vir lojale diens” is hierdie jaar toegeken aan Jason Mellett wat, as lid van die Uitvoerende Komitee, uitsonderlike diens gelewer het – bo en behalwe dít wat sy portefeulje van hom vereis het.

Akademiese erepennings is toegeken aan Chanel Dohse (brons) vir ‘n gemiddeld van 87,14%, Carmi Venter (silwer) vir ‘n gemiddeld van 90,63% en Anya Glazer (goud) vir ‘n gemiddeld van 92,38%. Glazer is ook as Dux-leerder aangewys.

Die gewilde “Plasie van die jaar”-trofee is oorhandig aan Anri McLean vir haar veelsydigheid gedurende die skooljaar en die feit dat sy op verskeie terreine uitgeblink het.

Op Donderdag, 18 Oktober, het die graad 8- tot 11-leerders gestraal by húl prysuitdeling. Die gasspreker was oud-Plasie, Timothy Varrie, klas van 2011. Hy tree tans as geestelike werker op by Shekinah House in Tzaneen.

Die unieke “Skiewie van die jaar”-pryse het gegaan aan Carl Dohse en Michelle Robertson in graad 8. Hierdie pryse word bepaal en toegeken deur die 2017/2018 Uitvoerende Komitee. Graad 11A is aangewys as die “Klas van die jaar”.

Lisa Maguire (graad 11) het die trofee vir “Getroue en onbaatsugtige diens” ontvang. Hierdie trofee is in 1983 geskenk deur Lydia de Wet vir die leerder met die hoogste dienslewering uit vrye wil.

Die Sakkie Meyer wisseltrofees vir toewyding en volharding is toegeken aan Marcel Louw (junior) en Jessica Botha (senior).

Suandrie Corbett (graad 10) dra die title van “Kultuurpersoonlikheid” vir die tweede jaar in ‘n ry. Sy is aangewys as die algehele wenner van die Tzaneen Eisteddfod, het deelgeneem aan provinsiale rondes van die ATKV-Redenaars en -Debat, asook aan die nasionale Radikale Redenaars.

Die hoogste kultuurtoekenning het gegaan aan Keynan Fox (graad 8) wat aan die nasionale ATKV-Redenaarskompetisie deelgeneem het.

Janco Blignaut (graad 11) is vereer met die “Grootste bydrae tot musiek”. Hy het die UNISA graad 7-musiekeksamen met lof geslaag.

Canell Jackson het weggestap met die “Sportvrou van die jaar”-toekenning vir haar boogskietvaardighede. Sy het, onder andere, Protea-kleure verwerf en neem deel as lid van die Suid-Afrikaanse span by die wêreld veldkampioenskappe. Sy behaal hier goud en ewenaar ‘n wêreldrekord in die “field”-ronde. Sy spog ook met ‘n nuwe wêreldrekord in die “Animal”-ronde.

“Sportman van die jaar” is toegeken aan Daniel Smit (graad 9). Hy het in hokkie, swem en tweekamp uitgeblink.

Nog ‘n unieke toekenning, die “Plasie gaan lê nooit”-trofee, is verdienstelik ontvang deur Ryan Jackson (graad 11), wat na ‘n groot ongeluk nooit opgegee het nie en sy uitdagings oorkom het deur homself groter as sy struikelblokke te bewys.

‘n Silwer erepenning is oorhandig aan Daniel Smit vir sy tweekamp prestasies, terwyl goue erepennings ontvang is deur Armand Wiers, Dewald Haagner, Rohan Wewege, Sean Hunt, Lin-Mari Theron en Canell Jackson vir hul prestasies by die wêreld boogskietkampioenskappe. Jackson het ook die Honorus-toekenning ontvang as Protea by dié kampioenskappe.