Merenskydag-viering: Van toeka tot nou

Die Uitvoerende Komitee wag opgewonde saam met Bulletjie om die saal binne te gaan.

Woensdag, 1 Maart, het blou bloed dik geloop toe Hoërskool Merensky een van hul jaarlikse tradisies, naamlik Merenskydag, herdenk het. Plasieland se verjaardag word reeds die afgelope 81 jaar op luisterryke wyse gevier.

Gasspreker, Chantel Schoeman (klas van 2011), wie self diep spore op Plasieland getrap het, het man en muis meegevoer met staaltjies uit haar skooldae. Na ‘n paar draaie deur ons land, is sy oortuig dat Plasie-wees ‘n unieke voorreg is wat nie almal beskore is nie.

Drie matrikulante: Ockert Fernandes, Lize Crafford en Casper Jordaan, het die geleentheid verryk met hul weergawe van die Merensky-lied. Daarna het die graad 10’s hul lyf model gehou en skooldrag oor die jare aan die gehoor vertoon.

‘n Suksesvolle viering is afgesluit met die Merensky-kreet. Hoendervleis-oomblikke soos dié is geen vreemde ervaring vir die 1000 plus Plasies nie.

FOTO
Die Uitvoerende Komitee wag opgewonde saam met Bulletjie om die saal binne te gaan.

Sien nog foto’s op ons Facebook-blad: HSMerensky.