Merke, gereed, oefen

Voor: Jan-Carel van Niekerk en Kesia Pohl. Agter: Mnre. Magnus Steyn (skoolhoof), Christo Pretorius (beheerliggaam voorsitter), Brandon Tolken (vloerbestuurder), me. Nicolette Steyn (sentrumbestuurder) en mnr. Adriaan van Niekerk (beheerliggaam, terrein).

FOTO:
Voor: Jan-Carel van Niekerk en Kesia Pohl.
Agter: Mnre. Magnus Steyn (skoolhoof), Christo Pretorius (beheerliggaam voorsitter), Brandon Tolken (vloerbestuurder), me. Nicolette Steyn (sentrumbestuurder) en mnr. Adriaan van Niekerk (beheerliggaam, terrein).


Danksy ‘n skitteridee, wat in 2018 tussen oud-Plasie, mnr. Adriaan van Niekerk, en ‘n span ouers gebore is, spog Hoërskool Merensky vandag met ‘n nuwe, moderne en doelgemaakte sportsentrum vlak langs Plasiepark.

Die doel van hierdie spogsentrum, met sy inspirerende uitsig oor die bekende treinbrug, is eerstens om Merensky-sportspanne die geleentheid te bied om in elke sport en op elke vlak optimaal te kan ontwikkel, en ook om algemene fiksheid en ‘n gesonde leefstyl te bevorder by leerders, onderwysers, ouers en Plasie-vriende.

Lede word blootgestel aan funksionele oefeninge (spoed, beweeglikheid, ratsheid en spronge), kardiovaskulêre oefeninge (fiksheid, mobilisasie- en strekoefeninge), gewigte (weerstandsoefeninge) en rondteprogramme. In beplanning is ‘n “pyntuin” (Cross-Fit) en evaluasiesentrum wat langs die hoofsentrum ontwikkel gaan word.

Die nuwe sentrum staan onder die bestuur van me. Nicolette Steyn, ‘n veelsydige sportvrou, voorheen verbonde aan Hoër Volkskool Potchefstroom. Sy behaal haar BA(MBW) en B.Ed(Hon) in sportreg, sportbestuur, talentidentifisering, talentontwikkeling en kondisionering aan die Noord-Wes Universiteit, waar sy ook haar hoër onderwysdiploma voltooi. Bo en behalwe dit is sy ‘n gekwalifiseerde hokkie- en netbal skeidsregter en het sy haar vlak 2 afrigtingskursus in netbal voltooi, asook ‘n atletiekafrigtingskursus by Atletiek SA. Boonop het sy ‘n diploma in sportmassering en is ook ‘n internasionaal gekwalifiseerde “anti-doping” deskundige.

Oud-Plasie, Brandon Tolken, behartig die ontvangs en is die vloerbestuurder. Hy sal ook as persoonlike afrigter optree.

Hierdie groot landmerk is op Dinsdag, 12 Februarie, amptelik ingewy met ‘n geselligheid, waartydens ‘n demonstrasie van die funksionele-afdeling in die sentrum aangebied is. Mnr. & Mej. Merensky (Jan-Carel van Niekerk en Kesia Pohl) het gaste verwelkom en die lint geknip.

Plasieleerders kan by die sportsentrum aansluit teen R1 000 per jaar (of R700 vir 6 maande). Die sentrum is ook oop vir die publiek, wat ‘n skamele R1 400 per jaar (of R900 vir 6 maande) sal moet opdok voor die vasbyt begin. Aansluitingsvorms is by die sentrum en skool se Mbank beskikbaar.

Gaan na facebook.com/hsmerensky of die skool se webblad (hsmerensky.co.za) vir oefentye en ander inligting.