Merke, gereed – Sing!

Sêrkompetisie 2018

Op Vrydag, 19 Oktober, het die Merensky-sêrgroep vir die eerste keer aan die ATKV se Animato A Capella sangkompetisie vir hoërskole deelgeneem. Vroegdag is daar reeds vertrek na Johannesburg, ter voorbereiding van die uitdunronde by Curro Wilgeheuwel in Roodepoort.

Hierdie jaar se interessante tema, Jagsirkel, het liedere ingesluit soos Circle of life, Klein Tambotieboom, Ek lewe ek belowe, Animal Mashup en Niks en nêrens. Puik verwerkings is op Plasiebodem deur mnr. Magnus Steyn Jnr. en me. Merise Katzke gedoen.

Die 17 sangers is in Roodepoort onder hande geneem en met grimering en kostuums oorgetoor in jakkalse, buffels, kameelperde, bokke en selfs groot katte. Saam met 9 ander sêrgroepe het hulle die massiewe saal se dak nootvas gelig in ‘n poging om deur te dring na die finaal.

Die Plasies (die enigste skool uit Limpopo) was welverdiend onder die top 6 groepe wat op Saterdag, 20 Oktober, mekaar weer die sangstryd aangesê het.

Nie minder nie as vyf gesoute beoordelaars het elke aanbieding fyn beluister en met ‘n valkoog beskou.

Uiteindelik is Afrikaans Hoër Meisieskool met die 1ste-plek bekroon met hul Amelia Earhardt-tema. Hoërskool Linden se Lost in space was naaswenners en Generaal JBM Hertzog met Trots Suid-Afrikaans was 3de.

Sêrkoors loop die afgelope 4 jaar hoog by Merensky. Afrigters en deelnemers het onderneem om in 2019 met nóg meer entoesiasme, kreatiwiteit en supersangstemme hierdie kultuuraktiwiteit aan te pak.