‘n Eerste Goue Presidentstoekenning vir Merensky

Elzette van Dyk

Elzette van Dyk, ‘n graad 12-leerling van Hoërskool Merensky het onlangs geskiedenis gemaak deur die eerste leerling te wees wie kwalifiseer vir die gesogte goue Presidentstoekenning.

Elzette vertel haar storie:
In die begin van 2014 (graad 9) het ek met die President’s Award begin. Deur die proses moes ek leer om uit my gemaksone te klim en nuwe en interessante dinge aan te pak.

Die toekenning het my geleer om as student ‘n meer gebalanseerde lewe te lei. Ek het onvergeetlike herinneringe van uitdagende staptogte oor 152km (9 dae en 6 nagte), met gesellige kampvure en onvergeetlike natuurskoon.

Ander uitdagings was op sport- en sosiale gebied. Behalwe vir twee jaar se netbal en atletiek, het ek ook Duits aangeleer en drama gedoen. In die laaste been van my reis het ek saam met ander Suid-Afrikaners, en selfs Nederlanders, ‘n residensiële projek aangepak waartydens ons ‘n skool se klaskamers oorgeverf het en ‘n groentetuin aangelê het. Ons het ook ‘n kinderhuis besoek en selfs by ‘n tronk in Barberton met die gevangenes gekommunikeer, terwyl ons hul werkswinkel skoongemaak het. Om in hierdie 144 ure ‘n verskil aan ander te maak het my hart geraak.

My raad aan almal wat die toekenning aanpak is: waardeer elke oomblik (die moelike dele ook), leer soveel as wat jy kan, moenie bang wees om iets nuuts aan te pak nie en jy kan nooit te veel koffie en kouse vir ‘n staptog inpak nie.”

Hierdie aspirant Fisioterapeut gee erkenning aan haar Skepper en moedig tieners in Tzaneen aan om hul visie te verbreed en deel te word van hierdie wêreldwye jeugorganisasie.